Neusie Verby (2008)

CD “Neusie Verby” bevat 12 oorspronklikke afrikaanse liedjies en 2 covers. Musiekvideo “Bietjie Oupa, stukkie Ouma” op Kyknet, DKNT en Jukebox.
Hallo, Welkom in my wêreld.

MEDIAVRYSTELLING
Spits jou ore … Caroline Bosch is ‘n nuwe talent en stem om mee rekening te hou.

GISTER
Voordat jy dink dis nog ‘n wanna-be wat die mark betree: Caroline het haar skoolgeld betaal. Sy het reeds van 8j sing-sing deur die lewe gegaan, maar haar eerste openbare optrede was in 2001 in die Zillertal, waar die gehoor se positiewe reaksie geen twyfel gelaat het dat sy op die regte spoor is nie. Na 7 maande by ‘n stemslypskool, en vele optredes in en om Pretoria, het sy vir persoonlike en professionele groei haar eerste toon-in-water-album opgeneem. Eiland van drome was ‘n indi-produk, wat ten spyte van goeie vertoning-verkope nie rakke toe is nie. Caroline was slegs besig om haarself voor te berei vir die groot bedryf. In 2005 neem sy, vir dieselfde redes, deel aan die Afrikaanse Idols. 22 000 deelnemers van regoor die land het meegeding, en Caroline het die besondere prestasie bereik deur die Top 50 te haal. Nog steeds nie tevrede nie en honger vir ervaring en blootstelling aan die mark se plusse en minusse, het sy ingeskryf vir Supersterre 2004 en 2006, en in beide gevalle die Top 100 gehaal. Met die stewige basis in haar arsenaal, het Patrick Meyer van Sting Musiek haar talent dadelik raakgesien, en in 2008 het die gesogte maatskappy haar in hul stal verwelkom.

VANDAG
Alhoewel puriste Neusie verby nie streng gesproke haar debuut album sou noem nie, behoort dit vanuit daardie hoek benader te word.
Elkeen van die 14 snitte is ‘n wenner op eie meriete. Caroline se musiek weergalm nie met sielswroeging nie. Vol vreugde, dankbaarheid en soms ‘n knerts nostalgie, het die balans met die ritmiese popklanke ‘n positiewe en uitmuntende album tot gevolg. Dit is ‘n opstaan-CD, m.a.w, jy wil daarmee wakker word want dit sal jou dadelik beter laat voel oor die lewe. Dis asof jy haar sonskyn glimlag deur die musiek kan síén.
Spesiale melding moet gemaak word van Dezi van Wyk se musiek en liriek. Die oorspronklike werk is digkuns wat herinner aan die epiese stukke wat in die Groot Verseboek aangetref word.
Caroline het met sorg gesoek na iemand wat werklik skryf en nie net woorde saamsoom vir gemaklike rymelary nie. “Ek wou nie net liedjies opneem omdat sing sing is nie, ek wou liedjies met ‘n boodskap vertolk,” verduidelik sy. Inderdaad.
Patriotisme vleg soos ‘n silwer lint deur die album. Staan Saam (3), Bart Nel (10) en Die Stem (14), wat tussen hakkies hoendervleis mooi is en sonder instrumente in eenvoud skitter, prikkel ‘n kamer in elke Afrikaanssprekende se hart. Sonder fanfare en trompetgeskal herinner sy die luisteraar aan ‘n deel van ons geskiedenis wat huidiglik onder die mat geskuif word omdat dit kwansuis gemoedere omkrap. Allermins. Met vroulike sjarme bring sy geloofwaardigheid deur haar vertolking wat nie polities gerig is nie, maar wel mensgerig.

MORE
Caroline is ‘n lewensblye mens wat by haar Oupa Freek en Ouma Hester grootgeword het. Hierdie liefdevolle fondasie is die een vanwaar sy haar hele toekoms benader. Met haar musiek wil sy vreugde en geluk uitdra. Haar onwrikbare geloof is ‘n sentrale anker. Nie een om net te neem nie, gee sy terug met ‘n magdom gemeenskapsprojekte wat veral vroue en kinders as fokus het. Vir elke kopie van Caroline se jongste album, Neusie verby, wat deur Solidariteit se Helpende Hand tydskrif verkoop word, sal R20 direk aan die Helpende Hand Fonds geskenk word.
Alhoewel sy reeds op DStv kanale, DKNT, KYKnet en Jukebox te sien was, en haar musiek dikwels oor die radio gespeel word op RSG, Pretoria, IFM, Rippel, Laeveld, Kragbron, Overvaal, Oosrand, Rosestad, Oranje, Helderberg, Bosveld, ens., is sy nou maar eers op die rand van enorme sukses.
Die aantreklike 29j blonde vrou se persoonlikheid reflekteer en resoneer suiwer en klinklaar op die album. Sy dra haar ruim hart onbeskaamd op haar mou. Om iemand teë te kom wat met soveel oorgawe, genot en opgewonde passie haar loopbaan aanpak, is dikwels raar in ‘n bedryf wat floreer op pessimisme en geligte wenkbroue.
Haar fluweelstem verdien applous en haar integriteit sal sorg dat sy haar vlerke wyd gaan sprei.

Uitgereik deur Sting Music – vir meer inligting kontak Andre Vermaak 082 478 1823/vermaak@amapromotions.co.za